![]()
KONSTITUSIE VIR DIE OTWSA
:::
OTSSA CONSTITUTION
(The constitution is presently only available in Afrikaans. It will be translated into English shortly.)
LAASTE
HERSIENING / LAST REVISION
September 2006
1.
Naam
2. Doelstellings
3. Regsaanspreeklikheid
4. Bestuur
5. Kongres
6. Algemene Vergadering
7. Lidmaatskap
8. Ledegelde
9. Publikasie
10. Wysigings aan die konstitusie
11. Ontbinding
1.
NAAM
Die naam van die werkgemeenskap is Die Ou-Testamentiese Werkgemeenskap in
Suid-Afrika / The Old Testament Society of South Africa (afgekort respektiewelik
OTWSA en OTSSA).
2. DOELSTELLINGS
Die werkgemeenskap streef na die bevordering van die Ou-Testamentiese wetenskap
in Suid-Afrika. Vir hierdie doel organiseer die gemeenskap sy lede in belangstellingsgroepe
aan die hand van terreine binne die vakgebied en reël kongresse. 'n Publikasie
word so gereeld as moontlik uitgegee en daar word gestreef na die opbou van
kontakte met oorsese vakgenote.
3. REGSAANSPREEKLIKHEID
3.1 Die aanspreeklikheid van lede van die OTWSA met betrekking tot verpligtinge
van die werkgemeenskap sal beperk wees tot agterstallige ledegelde, behalwe
in die geval van die ontbinding van die werkgemeenskap.
3.2 Sou die OTWSA om watter rede ook al ontbind word, sal elke lid aanspreeklik
wees vir sy/haar moontlike agterstallige ledegelde plus 'n bedrag hoogstens
gelykstaande aan die ledegeld van een jaar van een lid.
4. BESTUUR
4.1 Samestelling
Die bestuur van die werkgemeenskap bestaan uit 'n voorsitter, 'n sekretaris,
'n penningmeester en 'n addisionele lid.
4.2 Dienstermyn
Die bestuur word vir 'n dienstermyn van drie jaar gekies, met dien verstande
dat 'n bestuurslid in dieselfde pos nie vir 'n vierde ononderbroke termyn
herkiesbaar is nie.
4.3 Die ampte
4.3.1 Die voorsitter sit voor by amptelike vergaderings, voer die take wat
deur die algemene vergadering aan hom/haar opgedra is, uit, en versorg en
versprei die jaarlikse nuusbrief.
4.3.2 Die sekretaris hou notules van die amptelike vergaderings in 'n notuleboek
en versorg die versending daarvan; hou die ledelys op datum en stel nuwe lede
in kennis.
4.3.3 Die addisionele lid staan die penningmeester by en is verantwoordelik
vir die kontrole van die werkgemeenskap se voorrade.
4.3.4 Die penningmeester hanteer die finansiële ontvangstes en uitgawes
van die werkgemeenskap, administreer die bankrekening(s) en sorg vir die behoorlike
ouditering van die OTWSA se boeke.
4.4 Kworum
'n Kworum van die bestuur bestaan uit drie lede.
4.5 Tussentydse vakature
Sou daar 'n vakature in die bestuur ontstaan in die tyd dat die algemene vergadering
nie in sitting is nie, het die bestuur die reg tot koöpsie, met dien
verstande dat die termyn van die gekoöpteerde lid nie langer sal wees
as die termyn van die persoon wat hy/sy vervang nie. 'n Gekoöpteerde
persoon sal tydens 'n bestuursverkiesing verkiesbaar wees asof hy/sy een volle
termyn in die betrokke pos gedien het.
4.6 Vergaderings
Die bestuur vergader op sodanige plek en tyd as waarop dit mag besluit.
5. KONGRES
Die werkgemeenskap hou jaarliks 'n kongres by 'n instansie wat hom daartoe
uitnooi.
5.1 Organisasie
5.1.1 Die instansie wat die kongres aanbied, wys 'n kongressekretaris en voorsitter
aan wat dan die nodige reëlings tref in samewerking met die bestuur.
5.1.2 Die tema van die kongres word ten minste twee jaar vooruit deur die
algemene vergadering bepaal.
5.1.3 Die program van 'n kongres word minstens drie maande voor die kongres
in oorleg met die bestuur vasgestel uit voorleggings van voornemende sprekers
en sprekers wat op uitnodiging mag optree.
6. DIE
ALGEMENE VERGADERING
6.1 Tyd
Die algemene vergadering vind plaas tydens die jaarlikse kongres.
6.2 Kworum
Aanwesige lede van die OTWSA vorm 'n kworum.
6.3 Stemreg en spreekreg
Stemreg is beperk tot volle lede wie se ledegelde ten volle vereffen is, asook
erelede en emeritus-lede. Assessorlede mag voorstelle indien en het spreekreg,
maar nie stemreg nie.
6.4 Funksie
Die algemene vergadering kies die bestuur, die redaksie van die werkgemeenskap
se publikasie, hou toesig oor die werksaamhede van die bestuur, oorweeg die
geouditeerde finansiële verslae, besluit oor kongrestemas en oor eregaste.
7. LIDMAATSKAP
Voorstelle vir lidmaatskap word tydens die algemene vergadering gedoen en
die finale beslissing lê by die bestuur.
7.1 Volle lede
Volle lede moet ten minste 'n doktorale eksamen afgelê het of oor 'n
meestersgraad of oor 'n gelykwaardige kwalifikasie in 'n relevante vakrigting
beskik.
7.2 Assessorlede
Om te kwalifiseer vir Assessorlid moet 'n persoon beskik oor 'n graad of kwalifikasie
in Ou Testament of 'n toepaslike rigting. Hy/sy moet ook sy/haar volle lidmaatskapfooie
vereffen om lid te bly. Sulke persone kan lesings lewer en kongresse bywoon,
maar het nie stemreg op die OTWSA se algemene vergaderings nie.
7.3 Erelede
Voorstelle vir die benoeming van erelede word op die Jaarvergadering gemaak.
Die bestuur neem die finale besluit hieroor, met besondere aandag aan die
internasionale statuur van bogenoemde. Persone sal slegs in buitengewone gevalle
waar hy/sy besondere diens gelewer het aan die OTWSA, erelidmaatskap ontvang.
Bywoning van of lesing tydens kongresse lei nie outomaties tot erelidmaatskap
nie.
7.4 Emerituslede
By aftrede van volle en assessorlede word 'n persoon se lidmaatskapstatus
outomaties na emerituslid verander.
7.5 Beëindiging van lidmaatskap
'n Lid mag sy/haar lidmaatskap opsê of die bestuur kan 'n lid se lidmaatskap
sonder opgaaf van redes beëindig. 'n Persoon wie se ledegelde twee jaar
agterstallig geraak het, verbeur sy/haar lidmaatskap.
8. LEDEGELDE
Die algemene vergadering bepaal van tyd tot tyd die bedrag van die ledegelde,
met dien verstande dat lede van die bestuur, redaksielede, erelede en emerituslede
geen ledegeld betaal nie.
9. PUBLIKASIE
9.1 Die OTWSA publiseer 'n tydskrif, Old Testament Essays, wat gekeurde wetenskaplike
bydraes en resensies publiseer.
9.2 Die redaksie van die tydskrif bestaan uit 'n hoofredakteur, twee redakteurs
en 'n redaksionele raad.
9.3 Die hoofredakteur en twee redakteurs word deur die algemene vergadering
verkies vir 'n termyn van drie jaar. Hulle is herverkiesbaar vir verdere termyne
van drie jaar.
9.4 Die redaksionele raad word deur die redaksie saamgestel, in oorleg met
die bestuur, en moet binnelandse en buitelandse lede insluit.
9.5 Die werksverdeling tussen die hoofredakteur en die twee redakteurs, asook
verdere prosedures (soos die keuring van artikels) word deur die redaksie
self gereël.
9.6 Die tydskrif verskyn normaalweg drie keer per jaar, maar spesiale uitgawes
en supplemente word aan die oordeel van die redaksie, in oorleg met die bestuur,
oorgelaat.
9.7 Die penningmeester van die OTWSA is oorhoofs verantwoordelik vir die hantering
van die finansies van die tydskrif.
9.8 Die tydskrif word gratis aan alle lede versprei. Ander individue en instansies
kan die tydskrif bestel teen 'n prys wat deur die redaksie, in oorleg met
die bestuur, vasgestel word.
10. WYSIGING AAN DIE KONSTITUSIE
10.1 Kennisgewing van wysiging
Gemotiveerde skriftelike voorstelle ter wysiging van die konstitusie moet
ten minste een jaar voor die algemene vergadering waartydens die voorstel
dien, by die sekretaris van die werkgemeenskap ingedien word.
10.2 Meerderheid ter wysiging van die konstitusie
Wysiging aan die konstitusie kan slegs geskied indien ten minste twee derdes
van die aanwesige lede van die betrokke algemene vergadering sodanige wysiging
goedkeur.
11. ONTBINDING
Sou die OTWSA om watter rede ook al ontbind, terwyl dit 'n nadelige saldo
vertoon, sal gehandel word ooreenkomstig 3.2. Indien 'n batige saldo vertoon
word, sal dit die Bybelgenootskap van Suid-Afrika toeval.
![]()